TEUG EN AAN TAFEL
Wyn. Die maak, verkoop en geniet daarvan is ‘n fluïede en veranderlike wêreld. Die landskap daarom en die mense wat dit bewoon raak al meer divers en wyd verspreid. Van studente by universiteite wat sit met boksies wyn tot ware kenners en fynproewers wat veilings bywoon en verre lande besoek vir nuwe vondse. Die spektrum tussenin is verstommend en nooit vervelig nie.
So uiteenlopend soos die tipe mense wat by Bacchus se voete sit, is die voggies wat hul almal geniet. Lande en streke. Style, kleure en geure. Spotgoedkoop en peperduur. Jy kan jou lewe wy aan die kennis wat daarmee gepaard gaan. Sommiges doen. Sommeliers en wynmeesters. Die res doen ons bes, leer wat ons kan en besluit waarvan ons hou en wat maar kan bly.
In hierdie wêreld van wyn is twee tipes wyn wat dikwels teenoor mekaar staan. Teugwyne (“quaffers”) en wyne vir die etenstafel wat spesifiek en met sorg saam met kos kombineer word.
Teugwyne is die daaglikse genotwyne. Eenvoudig. Sonder voorwendsel. Jou verligting na ‘n lang dag op kantoor. Die begin van ‘n naweek. ‘n Vakansiestapel. Teugwyne is maklik en aangenaam om te drink. Jy hoef nie te veel te dink oor wat op die palet gebeur nie. Die oesjaar is nie noodwendig van belang nie en jy steur jou nie aan die verouderings potensiaal nie want die plan is nie om die wyn te bêre nie. ‘n Teugwyntjie sal ook nie te veel skade aan jou beursie aanrig nie. ‘n Sagte rooi versnit, ‘n vars Sauvignon Blanc, ‘n lieflike Merlot wat ‘n lang dag uitvee.
Tafelwyne beskoor vir haute cuisine, spesiale disse of enige spesifiek-beplande geurkombinasie het ander eienskappe. Hierdie wyne soek na iets om hul aan te vul, aan te vat en uit te daag. Jou meer senior tipe wyne. Hulle gesels met jou. Húlle vertel jou wat op die bord moet wees, waarna hulle soek en waarmee hulle sal saamwerk. Hierdie tipe wyn word nie sommer so van die rak gehaal nie. Hierdie wyne vereis beplanning en sorgvuldige keuses. ‘n Bietjie tyd en ‘n tikkie moeite word benodig om te verseker dat die wyn en die feesmaal perfekte pasmaats is.
En tog, hoewel hierdie twee tipes wyn so ver van mekaar blyk wees, is daar tóg oorvleulings. Dit mag dalk moeilik wees vir die ernstiger wyne om hulself voor te doen as ‘n ligte, lawwe teugwyn, maar daar is geen rede vir die laasgenoemde om nie sy plek aan tafel in te neem nie.
Die oudedoos neigings van rooiwyn by rooivleis en witwyn by vis en hoender begin stadigaan verdwyn en word vervang met meer opwindende en eksperimentele kombinasies. Die idee van swaar wyne saam met groot stukke kruisskyf en ligte Sauvignon Blancs saam met geroosterde vis maak plek vir die beginsel dat daar ruimte vir rondspeel is. Wat van ‘n Pinot Noir saam met ‘n tuna filet? Of ‘n luukse Chardonnay saam met daardie beesstert-kerrie?
Die klem skuif al meer na die balans van geure tussen die wyn en die dis. Pas die kenmerkende karakter van die wyn by ‘n kenmerkende karakter van die dis, eerder as om die wyn as geheel by die dis as geheel te pas. Daar is ‘n paar goue riglyne wat die proses makliker maak, maar die vaste reëls wat voorheen geheers het val stadigaan weg. ‘n Goeie benadering is om die wyn die fokus te maak en die kos daarby te pas. Sorg dat die wyn soeter is as ‘n soet dis, bietjie meer suur as ‘n suur dis en bly weg van bitter-bitter kombinasies.
Die beste manier om perfekte pasmaats te vind is leer en probeer. Eksperimenteer met ongewone kombinasies, teenoorgestelde geure en geure wat op mekaar bou. Kos en wyn is gemaak vir mekaar, elk speel ‘n aanvullende rol in die genot van die ander.
In Suid-Afrika veral oorvleuel teug- en tafelwyne dikwels ook in prysklas. Plaaslike produseerders vul die mark met hoë gehalte, premium-klas wyne teen bekostigbare pryse. Wyne gemaak in verskeie style, soms klassiek en soms volgens die wynmaker se eie inisiatief. Wyne wat hul plek kan inneem aan enige tafel, met of sonder ‘n luukse spyskaart. Hierdie bekostigbare, gehalte wyne maak kos en wyn pasmaats vind nog makliker en aansienlik meer begrotingsvriendelik.
Die vermeende “reëls” rondom wyn drink is stadigaan besig om te verander en verval. Wyn is meer bekostigbaar, drinkbaar en toeganklik as ooit tevore. Die lyne tussen teug- en tafelwyne vervaag en verbruikers maak hul eie reëls, soos hul goeddink, met die einddoel om wyn te geniet waar, wanneer en hoe dit ookal sy.
DIE MEES UITSONDERLIKE WYN WAT EK VOORHEEN GEPROE HET
Wanneer op soek na ongewone wyne of wynsoorte neig mens dikwels om die net ver van die huis af te gooi. Eg Franse Bordeaux, Argentynse Malbec of Duitse Riesling. Soms soek jy so vêr dat jy ‘n juweel onder jou neus miskyk.
Ek het juis so n juweel ontdek in ‘n klein botteltjie wat gelyk het soos brandewyn. Etiketloos. ‘n Naam met vryhand in Tip-Ex geskryf. Joostenberg Long & Late.
“ ‘n Rariteit,” is ek verseker.
“Uniek-soetdroog,“ word ek vertel.
“Perfekte kaasbordwyn,” is die raad wat ek kry.
En so was dit.
My pa het altyd Hanepoot soetwyn gekoop, in die groot bottels met die oortjies. So ‘n ligte strooikleur. Hy het ‘n klein wynvaatjie wat in die kombuis staan. Net ‘n paar liter groot. Dan gaan die Hanepootjie in die vaatjie in. En daar het hy gelê. Tot ons so amper van hom vergeet het. En dan eendag, vroeg winter die volgende jaar, tap my pa uit die vaatjie uit. ‘n Soet, amper-stroop, donker soos port wyntjie. My ma se gunsteling.
Die Joostenberg Long & Late is glad nie soos my pa se vaatjiewyn nie. Maar die storie daaragter herinner my daaraan. ‘n Eksperimentele wyn, ‘n enkele vat, van 2004 Chenin Blanc. Laat geoes, 3 maande in die vat gefermenteer en daarna net so gelos vir 8 jaar.
Die wynmaker self is nie seker wat om daarvan te maak nie. Die naaste beskrywing is ‘n Vin Jaune-styl wyn. Sterk sjerrie karakter, maar ongefortifiseer. Baie suiker, maar die soet kruip weg agter ‘n smaak wat wil-wil bekend proe, maar dit bly jou ontwyk. ‘n Bietjie aardse, neuterige smaak.
Dis ‘n jammerte die botteltjie was so klein.